Kultuur
Landties het ‘n CSV wat kook. CSV is al deel van die skool, en die skool is gebaseer op Christelike normes.
Elke Woensdagaand is CSV aand, dan word daar Bybelstudie gedoen, ons sing lekker saam, hou vasvra-kompetisies, speel speletjies en kyk videos. Alles tot eer van God.
Ons reël ook vir persone wat kom praat met die leerders oor alledaagse probleme en vraagstukke en leer hoe die Bybel sê ons moet dit hanteer.
By Morgenzon Landbou Akademie konsentreer ons ook op die “culture” in “agriculture”. Ons is reeds hard aan die oefen om ‘n revue, van ‘n hoë gehalte, die einde van hierdie jaar op die planke te bring. Die revue neem die vorm van ‘n “Afrikaans is groot” aan en elke leerder in ons skool is betrokke by die produksie.
Landties neem ook elke twee jaar aan ‘n kunswedstryd deel waar ons leerders kunswerke instuur, formele- en gedramatiseerde poësie voordra en ook monoloë en prosas doen. By hierdie kunswedstryd wys ons leerders ook hulle musiekale talent en neem deel aan solosang, groepsang asook koorsang.
Verlede jaar se wedstryd het nie plaasgevind nie, a.g.v. COVID-19. Ons is baie opgewonde vir die volgende wedstryd.
By MLA geniet ons Redenaars tema op tema. Daar word elke jaar deelgeneem by die Interskole Redenaarskompetisie waar volledige spanne ingeskryf word, alhoewel leerders individueel ook kan presteer. Ons begin reeds in Kwartaal 1 oefen aan ons toesprake en hou ook ‘n werkswinkel om aan ons leerders die nodige leiding te verskaf om sodoende hul eie toesprake te kan skryf. Dit is ons eie Prestige geleentheid waar leerders finaal afgerond en gekeur word vir die groot Interskole kompetisie.
MLA bied ook skaak vir Hoër- en laerskool aan. Skaak het wondelike voordele om jou kind te bied;
- Skaak maak jou kind slimmer.
- Dit verbeter sosiale vaardighede.
- Dien as ‘n uitstekende aktiwiteit vir skoolvakansies.
- Verbeter konsentrasie.
- Help om aandag-afleibaarheid en hiperaktiwiteit te verbeter.
- Verbeter logiese denke.
Hier word ons speel-speel sommer slimmer!
Landsdienslewe is die lekker lewe. Landsdiens by MLA het begin in 2002 waar 3 lede die klub gestig het en besonderse uitreikaksies gedoen het. Hulle het na Losotho gereis asook Mosambiek waar hulle in 2006 ‘n kerk gebou het. Vanaf 2002 tot en met 2021 het MLA al 5 Spingboktoekennings verwerf.
Deur landsdiens kweek ons ‘n liefde vir God, die natuur, ons medemens asook arbeid by ons lede. Daar vind elke week aktiwiteite plaas wat hierdie pilare versterk. Verskeie kampe word ook gedoen soos Klubkampe, Streekskampe en vir uitsondelike landsdieners, is daar ‘n kans om verkies te word vir die Nasionale kamp wat aan die einde van elke jaar is. Ons by MLA leef voorwaar die leuse van Facto Non Verba (Dade en nie woorde) uit in alles wat ons landsdiensklub aanpak.
Hoërskool Landsdiens: met groot opgewondenheid en baie dinge vir 2021 staan ons klub spoggerig geklee. Ons klub staan die jaar op 54 lede. Ons sien uit vir 2021 en al sy uitdagings maar dit gaan een wees om te onthou. Hou die spasie dop! Ons wil net baie dankie sê vir ons borg wat anoniem wil bly en Juf. Jeanine wat soveel doen met ons.
Oumas en Oupas maak die wêreld ‘n bietjie sagter, ‘n bietjie vriendeliker, ‘n bietjie warmer.”
Hoërskool Landsdiens Klub bak koekies & besluit om Morgenzon se Oupa’s en Ouma’s by die ouetehuis te bederf.
3 weke lank is daar lekker gebak en gebrou … oud & jonk het ingespring en hard gewerk (en baie gelag)om ñ sukses te maak van hierdie projek. Dankie vir Juf. Jeanine van Aarde en Tannie Mari Wehmeyer wat die leiding geneem het met hierdie projek.
‘n Paar interessante syfers:
- 216 koppies meel
- 18 blikkies kondensmelk
- 72 eiers
- 72 eetlepels stroop
- 18 teelepels koeksoda
- 18 teelepels kremetart
- 13.5kg margarine
- 50 blokke smelt sjokolade
- 6kg 100’s & 1000’s
2730 koekies = 64kg liplek lekker kondensmelk koekies
Dankie aan elke Landsdiens ouer vir die bestanddele om die projek ‘n sukses te kon maak.