Meisiekoshuis

God het elke dogter met besonderse sorg gemaak

‘n Klein skeppingswonder vir ‘n gelukkige ouerpaar.
Vir haar oë wat altyd vonkel het Hy 2 sterre gepluk.

Met die glimlag van ‘n engel bring sy vreugde en geluk.
Sy is gemaak van sonskyn, die kleure van ‘n blom,

van heuning, laventel en roosmaryn: daaruit is sy gevorm.
Toe is sy aarde toe gestuur, tot seën vir haar ouers en vriende hier.

‘n Mensie vol liefde en lewensvreugde vir ons net louter plesier!

By Huis Kosmos glo ons dat elke dogter ‘n unieke skepping is. Hier weerklink die meisies se lag deur ons gange en vul elkeen ‘n deel van die nostalgie wat al eeue weerklink deur hierdie gebou. “Koshuis” is nie n bed in ‘n verlate kamer nie. Dis ook nie ‘n tronk of ‘n straf nie. Dis samesyn, dis gees, dis trane afvee en om opgetrek te word wanneer jy voel jy kan nie staan nie. Dis n leefwyse en dis die mooiste herinnerge van jou skoollewe. 

Blom waar jy geplant is. Dit KOSMOS niks. 


Die koshuislewe bied leerders die geleentheid om belangrike lewensvaardighede aan te leer.  Seuns- en dogterskoshuise is ‘n redelike afstand van mekaar af. Seuns en dogters eet en leer afsonderlik.  Koshuise maak voorsiening vir leerders vanaf Gr.4 – 12.

Busse kry leerders Vrydae by koshuise en laai leerders weer Sondae by koshuise af.

Klik hier vir alle informasie benodig>>>

  • Huis Kosmos ondersteun die Landtie-waardes van integriteit, lojaliteit, respek en ywer. Landties wat gemotiveerd, entoesiasties en passievol is om die skool se geleenthede te gebruik, word met ope arms verwelkom in Huis Kosmos. Huis Kosmos bied ‘n geleentheid vir gemotiveerde deelnemende leerders om in ‘n veilige, gedissiplineerde, maar gesellige opset hulle maksimale potensiaal te bereik en saam met ons skool groot te droom en hard te werk,om sodoende elkeen se drome vlerke te gee!
  • Gesonde interpersoonlike verhoudinge word ook gevestig deur te poog om ‘n huislike atmosfeer te skep met streng dissipline en 4 diensdoenende personeel (almal inwonende personeel lede van MLA): en koshuis moeder wat sorg dat die Koshuis meisies gekoester en gelukkig kan blom waar hulle woon. Hierdie persone begelei inwoners om probleme te hanteer en help hulle afrond op die pad na volwassenheid.
  • Ons het ook ‘n span entoesiastiese werkers wat ons Kosmos-inwoners volledig op koers hou!
  • Vasgestelde studietye is ‘n ononderhandelbare geleentheid tot akademiese sukses. Leerders wat dit op grond van akademiese meriete verdien, mag studietyd en bloktyd in hulle kamers werk. Alle ander leerders studeer en werk ernstig in die studiesaal.

Huis Kosmos in ‘n neutedop

  • Huis Kosmos is binne stap afstand van die skool en ander aktiwiteite.  120 Leerders kan gehuisves word in 4 gange, elk met 12 gerieflike kamers. 3 Kamers huisves 4 leerders en 9 kamers kan 12 leerders huisves.
  • Juniors deel ‘n kamer met ‘n mede-junior(s). Dit vergemaklik ook nuwelinge se inskakeling by MLA in sy geheel. Seniors kan enkel kamers betrek (mits getalle dit regverdig).
  • Elke inwoner het ‘n eie kas in die kamer. Elke inwoner voorsien sy eie slot en sleutel om privaat eiendom veilig gesluit te hou. Selfone en ander waardevolle artikels word op eie risiko koshuis toe gebring.
  • Eie gordyne en beddegoed verseker ‘n eie identiteit en eienaarskap aan die Kosmos-inwoners. Eie ketels vir koffie in die aand word toegelaat. Ook eie strykysters om kreukels uit klere te verwyder.
  • ‘n Radio (met batterye) is ’n vergunning wat ontneem kan word indien dit so gebruik word dat dit vir iemand anders ‘n steurnis is. Radio’s word in kaste toegesluit wanneer dit nie gebruik word nie.


Die koshuis beskik oor die volgende geriewe :

  • Slaapkamers wat ingerig is vir twee of vier persone per kamer.
  • Skoon, ruim en netjiese badkamer geriewe.
  • ‘n Eetsaal waar honger magies gevul kan word.
  • Die ontspanningslokaal – ‘n snoesige leefarea met televisie, en tafeltennis tafel.
  • Verder beskik die koshuis ook oor ‘n ruim studie saal waar akademie hoog voorrang geniet.

Koshuispret word per geleentheid beplan. Kosmos-inwoners is gemotiveerde, geestesgesonde, deelnemende leerders. Spangees is deel van Landtie-wees en vind ook sterk neerslag in ons Kosmos-ervaring

DOELSTELLINGS

  • Om aan elke leerder die volle geleenthede te gee vir optimale verwerkliking van vermoëns en talente op alle opvoedkundige terreine waarop die koshuis hom mag begeef.
  • Om aan elke leerder die geleenthede te gee om hom/haar maksimaal voor te berei vir die volwasse lewe en ‘n saak makende rol te speel.
  • Om aan elke leerder sekuriteit en geborgenheid te bied in die koshuis gemeenskap as ‘n unieke individu met sy/haar besondere eienskappe en behoeftes.
  • Om leerders die beginsel aan te leer van: om vir mekaar om te gee en mekaar se belange op die hart te dra in ‘n gees van samewerking en ondersteuning.
  • Om aan elke leerder ‘n veilige omgewing daar te stel waar fisiese beserings so ver moontlik beperk word.

 
AKADEMIESE VORDERING

  • Akademiese vordering is uiters noodsaaklik vir koshuisgangers. ‘n Hoë akademiese standaard moet te alle tye gehandhaaf word.
  • Leerders wat nie aan ‘n minimum standaard voldoen nie, kan in ‘n studiesaal geplaas word om onder toesig van ‘n verantwoordelike persoon te studeer.
  • Genoegsame studietyd word ingeruim vir koshuisgangers om akademies te vorder.